Posts Tagged ‘gesondheid’

Vetaanvaarding vir mediese praktisyns

Medici sou maklik kon aanneem dat  vetaanvaarding ‘n gek idee is wat hulle  eerder sou wil ignoreer of konfronteer.   Dit is egter ‘n idee wat mediese praktisyns mee  kan saamstem sonder om enigsins onwetenskaplik te raak of die gesondheid van enigeen in gevaar te stel.  Hier is hoekom:

Diskriminasie is baie skadelik

Vetaanvaarding  gaan ten eerste daaroor om diskriminasie en haat teenoor vet mense te beveg.   Ek twyfel nie dat dit ‘n groter gevaar vir hulle gesondheid kan wees as vet nie.   Mens hoef maar net te kyk na die geval van ‘n 9-jarige dogtertjie in De Aar wie se gesig weens spanning begin skeeftrek het nadat onderwysers haar “vetgat” genoem het en haar geslaan het.  Of die gevaarlike Sibutramien (Simply Slim) wat desperate vet mense via ongure handelaars probeer in die hande kry, wat hulle dood kan veroorsaak.  Of die bevinding dat “obesity stigma erodes will to exercise, socialise“.

Of wat van die baie mense wat rook omdat hulle meen dit hou jou gewig laer – as daar nie so ‘n kwessie gemaak is van vet wees nie, sou niemand hierdie dodelike, onwelriekende en duur verslawing aanleer net om hulle gewig in toom te hou nie.

Deur blogs te lees kan mens  honderde voorbeelde elke dag byvoeg van die pyn, stres en harsteer  wat deur diskriminasie veroorsaak word.  Hierdie diskriminasie word gevoed deur die massahisterie (moral panic) oor vetsug, wat deels deur die mediese professie, maar veral deur die verslankingsindustrie gedryf word.

Wetenskaplikes moenie meedoen aan massahisterie nie

Hoewel sommige vet mense baie gesond is, is vetword soms ‘n teken van mediese probleme, byvoorbeeld as iemand vet is weens siektetoestande soos PCOS of as gevolg van te veel suiker in die dieet.   Maar die skrywer van die Big Liberty blog, skryf baie oortuigend oor hoe hedendaagse gesindhede teenoor “vetsug” ‘n opsweping (moral panic)  is  – lees veral hierdie artikel.   Ondanks die vreeslike vet gevaar, leef mense langer as ooit tevore.  Medici en wetenskaplik georienteerde mense moet hulle deur feite laat lei, en nie meegevoer raak deur ‘n tendens in die samelewing wat deur deur belangegroepe soos die verlankingsindustrie gedryf word nie.

Sien ook America’s Moral Panic Over Obesity

Diskriminasie in die spreekkamer

Talle mense se ervaring  van medici is dat nie almal ewe kompetent  of wetenskaplik ingesteld is nie.  Ek onthou ‘n paar verwaande mediese studente uit my tyd op universiteit – hierdie ouens was baie ingestel op die mooi meisies en die sosiale lewe van die kampus, en het vreeslik “ge-spot” en ge -cram voor eksamens.   Ek vermoed sommige van hulle laat vandag ‘n spoor van vernietiging na in hul pasiente se lewens.

Natuurlik sal  gesindhede van die samelewing ook in die spreekamer ‘n effek  hê – lees maar net die First, Do No Harm blog – met verhale van hoe sommige  dokters allerlei diagnoses mis omdat hulle uitsluitlik op gewig konsentreer, asook hoe sommige dokters hul vet pasiente minag en meedoen aan die diskriminasie.

Sorg vir die hele mens

Wanneer ‘n dokter net ‘n hoop vet sien in plaas van ‘n mens, sal sy optrede in die spreekkamer nie bydra tot die pasient gesondheid nie, maar eerder tot die pasient se stres en gevoel van verwerping, ek dikwels tot verkeerde diagnoses.

Om hierdie redes voel ek dat mediese personeel moet leer van vetaanvaarding, HAES.  En hulle moet op die basics van die mediese professie eerder as voorkoms konsentreer:  Die wetenskaplike maatstawwe van gesondheid is dinge soos bloeddruk, polsslag, bloedsuiker en vele ander dinge wat gemeet kan word.  Hoe meer wetenskaplik ingestel ‘n dokter is, hoe minder is die kanse dat hy/sy sal diskrimineer op grond van die sosiale vooroordele wat in die afgelope paar dekades ontstaan het.

Liewe dokter

Bekommernis, jo-jo gewig, stres, diskriminasie.
Ja, dis die resultate van jou anti-vet uitsprake wat ons vetties so treiter.

Jy dwing hulle om soos ‘n donkie teen dieselfde klip te bly skop,  om oor en oor teen die magtige gety van genetika kragte te meet.

En daai maer ou wat so vroeg aan ‘n hartaanval dood is – dis jy wat hom laat dink het hy is OK om te leef soos wat hy geleef het want hy was mos nie vet nie.

En daarvoor word jy hoeveel betaal??

Hartsiektes

Die  heartfoundation het die artikel hier onder verskaf, wat ook in Beeld verskyn het.  Dis goeie raad (behalwe punt 4), ook vir slankes .   Trouens, dis juis dikwels mense wat nie vet is nie, wat skielik en onverwags hartsiekte kry.

So hoekom is punt 4 (hou jou gewig dop)  nie juis goeie raad nie?   Want as jy al die ander goed doen, en jy het gewig wat kan verloor, dan sal jy.  En as jy al die ander goed doen, maar jy verloor niks gewig nie, moet jy steeds aanhou met daardie goed,  want dis nodig vir jou gesondheid.  Net soos dit ook nodig is vir ‘n slanke persoon se gesondheid.   Boonop is dit nie waar dat vet mense noodwendig hoë bloeddruk het nie.  Talle mense in die vetaanvaarding beweging, sommiges buitengewoon vet, het nie hoë bloeddruk nie

Die ewige obsessie met vet hou ‘n gevaar in vir mense wat nie vet is nie, wat hulle dink hulle is OK.  Mens moet eerder na die fundamentele goed kyk:  kry jy oefening, eet jy gesond,  kry jy ‘n uitlaat vir jou spanning.  As jou bloedsuiker, bloeddruk, hartritme, polslag per minuut, cholestrolvlak, stresvlak en fiksheid goed is, dws die fundamentele goed, is jy net miskien OK!

Keer hartsiektes en beroertes só

Sondag was Wêreldhartdag en die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika het 10 wenke vir ’n gesonder hart.

Hartsiektes en beroertes is die grootste oorsake van dood ter wêreld en eis ongeveer 17,1 miljoen lewens elke jaar.

“Op Wêreld-hartdag doen ons ’n beroep op almal om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie hartgesondheid.

“Ons doen dit deur tien mak­like stappe wat mense kan doen uiteen te sit en deur mense aan te moedig om te begin deur minstens een te doen.

“Gesonde eetgewoontes, fisieke aktiwiteit en om nie te rook nie, word aanbeveel,” sê dr. Vash Mungal-Singh, uitvoerende hoof van die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika, in ’n verklaring wat verlede week uitgereik is.

’n Gesonde lewe

1.  Eet gesond: Eet minstens vyf porsies vrugte en groente elke dag en vermy versadigde vet. Pasop vir verwerkte kos, wat dikwels baie sout bevat.

2.  Raak aktief: Selfs ’n halfuur se oefening daagliks kan help om ’n hartaanval of beroerte te voorkom, en jy sal ook in jou werk daarby baat vind.

3.  Los die tabak: Jou gevaar vir hartvatsiektes sal binne ’n jaar gehalveer word as jy ophou rook en sal mettertyd na normaal terugkeer.

4.  Hou jou gewig dop: Gewigsverlies, veral saam met ’n ­laer soutinname, lei tot laer bloeddruk. Hoë bloeddruk is die grootste gevaarfaktor vir beroerte-aanvalle en dit is ook ’n groot faktor in verskeie hartsiektes.

5.  Ken die syfers: Besoek ’n gesondheidspraktisyn wat jou bloeddruk, cholesterol, glu­ko­se­vlak­ke, middellyf-tot-heup-ratio en liggaamsmassa-indeks kan meet. Sodra jy weet wat jou gevaarfaktore is, kan jy ’n plan maak om jou hartgesondheid te verbeter.

6.  Stadig met die drankies: Beperk die hoeveelheid alkohol wat jy inneem. Uitermatige alkoholinname kan jou bloeddruk laat styg en jou gewig laat toeneem.

In die werkplek

7.  Raak rookvry: Dring daarop aan dat rook in jou werkplek verbied word. Stel voor dat jou werkgewer ophou-rook-dienste aanbied aan diegene wat wil ophou.

8.  Oefen by die werk: Sluit fisieke aktiwiteit in jou werkskedule in – ry fiets werk toe indien moontlik, klim trappe eerder as om die hyser te gebruik, doen oefening of gaan stap gedurende jou middagetenstyd en moedig ander aan om dit ook te doen.

9.  Kies gesonde kos: Vra vir gesonde koskeuses by die werk se kantien of spoor nabygeleë kafees of restaurante op wat gesonde maaltye voorsit.

10.  Klop die spanning: Hoewel dit nie bewys is dat spanning ’n direkte gevaarfaktor vir hartsiektes en beroertes is nie, is dit verwant aan rook, oormatige alkoholgebruik en ongesonde eetgewoontes. Bring oor middagete tyd weg van jou werkplek deur en kry ’n bietjie vars lug. Neem gereelde onderbrekings deur die dag – probeer vir vyf minute twee keer per dag strek of oefen.

Verskaf deur die Hart-en-beroerte-stigting van SA; 0860 223 222 of http://www.heartfoundation.co.za.

PCOS en Cysters United

Een van die baie redes hoekom sommige vroue vet is, is omdat hulle PCOS het.  En een ding wat help as mens ‘n sekere soort kondisie het, is om kontak te maak met ander mense wat aan dieselfde kwaal ly.

Daar is soveel wat mens kan leer, en soveel wederkerige ondersteuning wat mens kan  kry en geen aan by mense wat dieslfde pad as jy loop.   Ongelukkig is daar geen ondersteuningsgroep of blog in Afrikaans vir vroue  met PCOS nie, en ek is ook nie die regte persoon om so iets te begin nie.  Maar gelukkig kan ek ‘n Engelse blog uitwys, waar vroue met PCOS kan gesels:  Cysters United.

Te besig om te oefen?