Posts Tagged ‘vetaanvaarding’

Vetaanvaarding vir mediese praktisyns

Medici sou maklik kon aanneem dat  vetaanvaarding ‘n gek idee is wat hulle  eerder sou wil ignoreer of konfronteer.   Dit is egter ‘n idee wat mediese praktisyns mee  kan saamstem sonder om enigsins onwetenskaplik te raak of die gesondheid van enigeen in gevaar te stel.  Hier is hoekom:

Diskriminasie is baie skadelik

Vetaanvaarding  gaan ten eerste daaroor om diskriminasie en haat teenoor vet mense te beveg.   Ek twyfel nie dat dit ‘n groter gevaar vir hulle gesondheid kan wees as vet nie.   Mens hoef maar net te kyk na die geval van ‘n 9-jarige dogtertjie in De Aar wie se gesig weens spanning begin skeeftrek het nadat onderwysers haar “vetgat” genoem het en haar geslaan het.  Of die gevaarlike Sibutramien (Simply Slim) wat desperate vet mense via ongure handelaars probeer in die hande kry, wat hulle dood kan veroorsaak.  Of die bevinding dat “obesity stigma erodes will to exercise, socialise“.

Of wat van die baie mense wat rook omdat hulle meen dit hou jou gewig laer – as daar nie so ‘n kwessie gemaak is van vet wees nie, sou niemand hierdie dodelike, onwelriekende en duur verslawing aanleer net om hulle gewig in toom te hou nie.

Deur blogs te lees kan mens  honderde voorbeelde elke dag byvoeg van die pyn, stres en harsteer  wat deur diskriminasie veroorsaak word.  Hierdie diskriminasie word gevoed deur die massahisterie (moral panic) oor vetsug, wat deels deur die mediese professie, maar veral deur die verslankingsindustrie gedryf word.

Wetenskaplikes moenie meedoen aan massahisterie nie

Hoewel sommige vet mense baie gesond is, is vetword soms ‘n teken van mediese probleme, byvoorbeeld as iemand vet is weens siektetoestande soos PCOS of as gevolg van te veel suiker in die dieet.   Maar die skrywer van die Big Liberty blog, skryf baie oortuigend oor hoe hedendaagse gesindhede teenoor “vetsug” ‘n opsweping (moral panic)  is  – lees veral hierdie artikel.   Ondanks die vreeslike vet gevaar, leef mense langer as ooit tevore.  Medici en wetenskaplik georienteerde mense moet hulle deur feite laat lei, en nie meegevoer raak deur ‘n tendens in die samelewing wat deur deur belangegroepe soos die verlankingsindustrie gedryf word nie.

Sien ook America’s Moral Panic Over Obesity

Diskriminasie in die spreekkamer

Talle mense se ervaring  van medici is dat nie almal ewe kompetent  of wetenskaplik ingesteld is nie.  Ek onthou ‘n paar verwaande mediese studente uit my tyd op universiteit – hierdie ouens was baie ingestel op die mooi meisies en die sosiale lewe van die kampus, en het vreeslik “ge-spot” en ge -cram voor eksamens.   Ek vermoed sommige van hulle laat vandag ‘n spoor van vernietiging na in hul pasiente se lewens.

Natuurlik sal  gesindhede van die samelewing ook in die spreekamer ‘n effek  hê – lees maar net die First, Do No Harm blog – met verhale van hoe sommige  dokters allerlei diagnoses mis omdat hulle uitsluitlik op gewig konsentreer, asook hoe sommige dokters hul vet pasiente minag en meedoen aan die diskriminasie.

Sorg vir die hele mens

Wanneer ‘n dokter net ‘n hoop vet sien in plaas van ‘n mens, sal sy optrede in die spreekkamer nie bydra tot die pasient gesondheid nie, maar eerder tot die pasient se stres en gevoel van verwerping, ek dikwels tot verkeerde diagnoses.

Om hierdie redes voel ek dat mediese personeel moet leer van vetaanvaarding, HAES.  En hulle moet op die basics van die mediese professie eerder as voorkoms konsentreer:  Die wetenskaplike maatstawwe van gesondheid is dinge soos bloeddruk, polsslag, bloedsuiker en vele ander dinge wat gemeet kan word.  Hoe meer wetenskaplik ingestel ‘n dokter is, hoe minder is die kanse dat hy/sy sal diskrimineer op grond van die sosiale vooroordele wat in die afgelope paar dekades ontstaan het.

Advertisements

Liefde is…

loveis

Op die grens tussen vet en slank

Daar is ‘n groep vroue wat so op die grens tussen vet en slank lewe.   As hulle hul volle aandag aan energie aan gewig verloor kan gee, slaag hulle om slank te word.  Sodra iets gebeur – kind kry, liefde of een of ander krisis, dan word hulle weer vet.   Dis eintlik ‘n baie moeilike plek om te wees, want hierdie vroue “bewys” elke nou en dan aan hulself en die wereld dat “mens kan gewig verloor as jy net regtig wil”.

Wanneer hierdie vroue slankheid bereik is daar minste ‘n tydjie van rus waar hulle nie al daai nonsens oor vet mense hoef te ervaar nie, so mens gun hulle dit, al is daar sterk aanduidings dat hoe meer jou gewig wipplank, hoe swaarder eindig jy op.
Die vraag is of dit die moeite werd is om so baie tyd, geld en emosionele energie aan hierdie een ou sakie toe te wy.En nog ‘n kwessie is dat hierdie “bewys” geen bewys is nie.  Daar is ‘n hele klas mense wat glad nie op ‘n veilige manier kan slank word nie, en hierdie grensgevalle versterk die bevooroordeelde ou mensdom se idee dat mense wat vet is, net nie hard genoeg probeer nie.  Ongelukkig word die idee dat mens (vroue veral) moet slank wees, selde uitgedaag.

______________________________________

Dr Pattie Thomas het ‘n oulike verklaring geskryf oor hoekom mense aanhou om dieete te probeer, al werk dit nie.  (Die meeste of werk tot ‘n in die kort termyn, maar feitlik almal wat baie gewig verloor met diete kry daardie gewig terug binne 5 jaar of minder).

Kry haar artikel hier: New Year’s Resolutions: Who is Failing Whom?

Geweeg en te lig bevind

Ek besef dikwels dat ek nie die ideale persoon was om die eerste Afrikaanse blog oor vetaanvaarding te begin nie.   Nie omdat ek manlik is, en nie vet nie, maar veral omdat ek die verkeerde idee skep weens my ander blog, en te veel aangegaan het oor hoe mooi sommige vet vroue vir my is.

Vetaanvaarding gaan nie in die eerste plek (of tweede plek) oor mooi & sexy nie.  Dit gaan oor om op te staan teen vet fobie, en die neiging in die mediese gemeenskap, media en samelewing wat al hoe harder probeer om vet mense te verneder “vir hul eie beswil”.  Mens kan nie iemand tot maerheid verneder nie, en ‘n groot persentasie van vet mense sal altyd vet wees, ongeag wat hulle doen, hoeveel gewig hulle kort termyn verloor, en hoe hard ander mense hulle probeer maer kry.

Vetaanvaarding gaan daaroor om te sê: “ek het ‘n reg om te wees, te lyk en soveel te weeg soos ek gemaak is”, en “julle het geen reg om my te probeer verander nie”.

Soms is ek mismoedig oor my skryfvermoens en vermoe om ‘n saak te stel.  As jy vet is, moenie dink dinge is maar soos hulle is, en jy moet dit maar so aanvaar nie.   Daar is baie stemme wat opgaan, mense wat idees en hoop bied.  Die afgelope paar dae was daar in Sydney  die  “Australian Fat Studies conference”.

By daardie konferensie was daar ‘n vrou, Kath, oftewel Sleepydumpling, ‘n voorlegging gemaak.  Lees dit hier -dis ‘n absolute moet-lees.   As jy net een vetaanvaarding / HAES blog wil lees (van die  honderde wat daar is),   dan is haar blog, Fat Heffalump, die een wat ek die sterkste kan aanbeveel.    Wat ‘n  helende en liefdevolle persoon is sy nie, en ek dink haar blog is  uitstekend – goed vir enige iemand se menswees.  Ja selfs mense wat nie vet is nie.

Wat my betref, ek gaan voort.  Die feit dat hierdie blog sover ek weet nog steeds die enigste vet aanvaarding / HAES blog in Afrikaans is, pla my.   Dit pla my dat ek so min bereik het,  terwyl vet fobie voortstoom en al hoe erger word.   As iemand beter as ek kan doen, sal ek baie, baie  bly wees.

Bewustheid

As mens in ‘n winkel is, is dit opvallend hoe vroue, as hulle iemand sien wat hulle ken, net daar stop om te kuier, sonder enige oorweging daarvoor of hul kuiery in die pad is of nie.  Dit is vir my op ‘n manier lekker om te sien, want dis omdat hulle so op kommunikasie en vriendskap ingestel is, dat praktiese oorwegings tweede moet kom.

Tog is dit belangrik om ‘n bewustheid van almal rondom jou te hê.   Almal rondom jou het ook dinge om te doen, en as jy glad nie ander mense in ag neem nie, is jy soos Rosalind Franklin se Generasie O -nie ‘n mooi gesig nie.    Die teenoorgestelde van Generasie O, is mense wat ‘n bewustheid het van ander mense se behoeftes, en dit in ag neem.

As vet-fobie enigsins geregverdig kan word, is Generasie O mense seker die groot rede – mense sien ‘n vet mens, en dink hulle het nou met ‘n selfsugtige Generasie – O mens te doen, byvoorbeeld ‘n  Generasie O man, wat stadig beweeg, te groot is vir enige iemand om by verby te kom, maar nie daaroor omgee nie.

Maar my verwagting, gebasseer op die vet vroue wat ek ken, is dat hulle glad nie soos Generasie O – mense is nie.  Die vet vroue wat ek ken is sagmoedig, rustig, onselfsugtig en prettig.  Daar is niks aan hulle wat hoef te verander nie.   Hierdie mooi vetties het ‘n bewustheid van ander mense se behoeftes, insluitende die behoefte wat ander het om by hulle verby te kan kom in ‘n supermark gangetjie of op die trappe.

Mense wat vet-fobies is skiet eintlik self erg kort aan bewustheid.  Want hulle kan nie die vet mens se menslikheid, en skoonheid raaksien nie, en verkies eerder om aan te hou met hul lui stereotipering.  So op ‘n manier is vet-fobiese mense eintlik erg Generasie O.


Hoe moet ‘n vrou sexy vir haar man wees

‘n Ander keer het ek geskryf oor hoe mense hulle harte vir Google wys.  En wraggies noudie dag sien ek weer so ‘n noodroep.

hoe moet ‘n vrou sexy vir haar man wees

Ek kon nie help om bietjie hartseer te voel daaroor nie.  Eerstens dink ek die probleem is waarskynlik by haar man.  As hy haar afbreek, sal sy nie sexy voel nie, al help Google haar om die beste raad oor sexy wees, te vind.  Maar miskien is daar ‘n kans dat sy rerig nie ‘n idee het hoe om sexy te wees nie.  In daai geval wonder ek of sy dalk so preuts grootgeword het soos ek.   Dalk lees sy Sarie en Finesse of dieettydskrifte.   As ek nou deur daardie soort tydskrifte blaai, sien ek absoluut niks wat sexy is nie.   Sulke tydskrifte is daar om jou te leer hoe om respektabel (en maer) te lyk en te wees.   Nou kyk, nou en dan sien mens ‘n vrou wat respektabel èn sexy is, maar gewoonlik is respektabel ‘n boelie wat vir arme sexy verwilder.

Sexy het ook (veral) niks met gewig uit te waai nie:  jy kan baie sexy wees al weeg jy 80 kg meer as wat jy dink jy moet.

Sexy wees het wel iets te doen met gesondheid, fiksheid en lewenslus (dinge wat vet mense ook kan hê), maar dis ook ‘n soort selfvertroue, en selfs soms ‘n soort skaamheid.

Dis nie iets wat jy kan koop of kan kry deur harde werk, byvoorbeeld ‘n strawwe dieet nie. Jy kan 60 kg verloor en net so min sexy voel soos nou.

Dis nie iets wat jy op enige manier kan verwerf nie, veral nie deur harde werk, dissipline of boeke lees nie, (veel eerder dan deur ledigheid).

Sexy wees is iets wat jy waag.  Dis suiwer waaghalsigheid.

Jy waag dit om bietjie langer vir iemand te kyk, bietjie meer te wys as wat hy verwag het, of iets meer van jou menswees of vroulikheid te laat blyk as wat die persoon vir wie jy sexy wil wees, verwag het, en daarom is daar ‘n risiko aan – die risiko van die moontlikheid van verwerping of vernedering wat jy loop as jy jou gewone weerbaarheid verslap.

Vet vroue het ‘n groter weerloosheid wat sosiale vernedering betref.  So as hulle daardie risiko neem om sexy te wees, is dit ‘n groter risiko.   En omdat dit ‘n groter risiko is, kan hulle dit regkry, as hulle dit waag, om veel meer onweerstaanbaar sexy te wees as enige iemand anders.

Join the revolution