Posts Tagged ‘wilskrag’

My tannie se wilskrag

My tannie is vet.

Sy is ook ‘n vrou met ‘n ysere wil.  Niemand wat haar ken verkeer onder enige twyfel oor haar wilskrag nie, want sy is ‘n entrepeneur wat fantastiese dinge bereik het.   Die ure wat sy gewerk het, en die uitdagings wat sy oorkom het, is net ongelooflik.

‘n Klompie jare gelede het sy besluit om gewig te verloor.  Soos al die ander dinge in haar lewe het sy dit met mening aangepak, en dit was nie baie lank nie, toe is sy slank.   En sy het haar gewig op daardie vlak gehou vir ‘n paar jaar (seker so 4, maar ek gaan haar nou nie vra om dit te bevestig nie).

Vandag is sy weer vet – swaarder as wat sy was.   Sy is nog steeds energiek,  gesond en vol ondernemingsgees.  Sy is nou in haar sestigs.  Sy is maar net een rede hoekom ek geneig is om die HEAS – kamp*  se argumente te glo, en nie die Deathfat** – kamp s’n nie.   As mens eers eenmaal vet was, neig jou liggaam altyd weer terug daarna.  Gewig verloor is meesal tydelik, maar nogtans kan jy gelukkig en gesond lewe as jy vet is.

*Die HEAS, oftewel Health at Every Size – kamp bestaan uit dieetkundiges en medici wat die doel van gewig verloor laat vaar, en op ‘n ander doel fokus, naamlik gesond lewe, gesond eet, selfaanvaarding en fiksheid.

**Deathfat dokters is die wat glo dat mens gedurig gesondheidswaarskuwings moet uitreik aan vet mense om hulle te waarku om gewig te verloor, ongeag die feit dat hulle jare lank reeds probeer, maar nie kan nie.   Deathfat dokters glo ook vas dat mens van vet op sigself ongesond is, terwyl daar eintlik vele oorsake is vir ongesondheid,  onder meer swak eetgewoontes en min oefening.