Seks vir die groter figuur

Kyk bietjie wat skryf Dr Elmari Mulder Craig

Seks vir die groter figuur
Is jy een van vele vroue wat dink die ‘perfekte’ lyf waarborg ‘n perfekte sekslewe? Dink weer! Al wat vir gesonde bedsake nodig is, is ‘n gesonde seksuele selfbeeld.
Selluliet, saalsakke, borste wat lankal voor swaartekrag geswig het, of die verandering in jou liggaamsbeeld as gevolg van ‘n mastektomie…Is dit al wat jy raaksien as jy in die in die spieël kyk? Moenie moedeloos voel nie, jy’s nie alleen in hierdie stryd teen die skaal en die spieël nie. Die monster is egter nie dié een wat vanuit die spieël na jou terugstaar nie, maar wél die een in jou kop wat jou wysmaak dat jy nie goed, mooi of begeerlik genoeg is nie.
Die mode-wêreld en tydskrifte skryf vir ons voor wat sexy en mooi is – ‘n maer vrou. Maar dit was nie altyd so nie. Talle beeldjies van vet vrouens wat uit die Steentydperk, ongeveer 25 000 gelede dateer, is gevind. Kyk na die dansende boere met hulle ereksies en hul vet boerinne in die skilderye van Brueghel. Vet vrouens was sag en sensueel deur Rubens geskilder – van die selluliet op die dye, stuitjievetjies, die dimpels op die boude. Die vrouens op die doeke gloei van lewenslus, terwyl hulle blosend vir hul bewonderaars oor eeue heen ontbloot word. Dan is daar Rodin wat die vet dye en boude van vrouens met oopgespreide bene uit dik klonte klei onder sy hande voel vorm het – sy hande bloot spieëls van die vrouens in sy lewe. Deur die millenia is dit bewys dat mans nie soseer geprikkel word deur ‘n vrou se gewig nie – maar eerder deur die feit dat die vrou met hom seks wil hê – en dit geniet!
ʼn Gesonde seksuele selfbeeld is belangrik om ‘n gesonde en positiewe seksuele verhouding verseker. Elke vrou is ‘n unieke wese wat haar seksualiteit op ‘n unieke manier beskou, uitdruk en ervaar. Of jy jouself as seksuele wese op ‘n positiewe of negatiewe manier ervaar, hang grootliks van jou seksuele selbeeld af en jou persepsies oor jou lyf. Dit word gevorm deur opvattings oor, en ingesteldheid teenoor seks en seksuele plesier, asook deur waardes en beelde wat met jou liggaam en emosies verband hou. Seksualiteit gaan oor veel meer as die blote seksdaad. ʼn Vrou se seksuele selfbeeld het twee groot vyande: haar liggaamsbeeld, en die persepsie wat sy het oor wat “ideale” seks is soos dit deur die media uitgebeeld word. Deesdae word die idee van veelvuldige orgasmes wat ure duur en die feit dat ‘n vrou altyd gereed en in die bui vir seks moet wees byvoorbeeld, as die ideaal en norm voorgehou. Boonop leef ons in ‘n kultuur wat nog nie heeltemal wegbeweeg het van die idee dat seks iets is om oor skaam te wees en iets is waaroor nie gepraat word nie.
Hoewel ‘n negatiewe seksuele selfbeeld vroue nie noodwendig daarvan weerhou om seksuele verhoudings te hê nie, kan die ontevredenheid en angstigheid oor hulself, mettertyd ‘n demper op hul sekslewe plaas. Dit is onmoontlik om seks te geniet en jou oor te gee aan die genot van die oomblik, as jy naarstigtelik probeer om jou sogenaamde selluliet of ‘n vetrolletjie op die verkeerde plek, weg te steek. Selfaanvaarding en selfliefde is ‘n voorvereiste vir ‘n gesonde selfbeeld. Hoe meer vetroud jy is met jou eie seksualiteit, insluitende huidige en vroeëre persepsies en houdings teenoor seks, hoe meer selfversekerd en suksesvol in jou benadering tot die liefdespel sal jy wees.
Seksposisies vir die groter figuur:
• Die gewone ‘sendeling’ posisie laat vrouens gewoonlik gemaklik voel.
• Penetrasie van agter af terwyl jy op jou maag lê met ‘n kussing onder jou heupe.
• Jou maat lê op sy sy en jy lê op rug om ‘n T met hom te vorm terwyl jy jou bene oor sy heupe sit. Julle kan in mekaar se oë staar en hy kan jou borste stimuleer.
• Laat hom op die rusbank sit en sit bo-op hom. Jy kan selfs ‘n mooi camisole aanhou as dit jou gemakliker gaan laat voel.
Wenke vir gesonde seks vir die groter figuur:
• Herinner jouself daaraan dat miljoene mense van alle groottes, vorms en kleure elke dag seks het en dit geniet. Wees realisties. Vra jouself die vraag af waarom dit vir jou so belangrik is om ‘n sekere rokgrootte te dra en of dit werklik ‘n verskil gaan maak as jou boarms of bene 2cm dunner is.
• Beoordeel die boodskappe vanuit die media krities. As jy en jou maat gelukkig is met julle sekslewe, is dit al wat tel.
• Maak ‘n lysie van jou sterk punte wat die liggaamlike aanbetref. Het jy besondere mooi oë, hare of hande? Waardeer hierdie positiewe punte en herinner jouself gereeld daaraan. Onthou ook die meeste mans is nie naastenby so krities soos vroue nie.
• Staan kaal voor die spieël. Raak gewoond aan jou naaktheid en aanvaar jou tekortkominge, maar soek ook jou sterk punte uit. Waardeer die uniekheid van jou liggaam.
• Aanvaar komplimente met grasie en glo dit.
• Kyk ‘n slag so krities na ander soos jy na jouself kyk. Jy sal agterkom daar is meer “gewone” mense as “perfekte” mense.
• Verbeter jou selfbeeld deur iets te verander wat jou goed laat voel. Verander jou haarstyl of kleur. Versorg jouself goed.
• Koop ‘n lekker masseerolie en masseer jou maat se lyf, en ruil dan rolle om dat hy jou masseer. Dit sal julle albei laat ontspan, en jou ook meer in voeling laat kom met jou sensualiteit.
• Lees op en brei jou kennis oor seksualiteit uit. Eksperimenteer en leer jou eie liggaam ken. Onthou seksuele vervulling is ‘n gawe. Jy verdien dit en het die reg om seks te geniet. So sal jy dit ook vir jou maat meer bevredigend te maak.
Glo jou maat as hy vir jou vertel dat jou liggaam vir hom aantreklik is- en hy sal jou soos ‘n seksgodin vertroetel. Jou belangrikste seksorgaan is jou brein – as jy besef watter impak jou liggaam op hom het, en jy meer selfversekerd oor jou liggaam voel en sensueel optree, kan jou erotiese lewe weer sy sprankel terugkry.

One response to this post.

  1. As ‘n vo;;er figuur man weeten glo ek seks is vir ons almal bedoel. Mense oordeel hulle self oor grote of iets is te klein of iets is te groot. Ons moet besef hoe groot of klein jy is, jy is ‘n seksueele wese en net so pragtig soos jou medemens. Jy is waardig om ‘n gesonde sekslewe met te lei met wie ookal jou aanvaar soos jy is. Punt. Mooi artikel, ek het lekker gelees.

    Liked by 1 person

    Antwoord

Lewer kommentaar